Sidney Gilroy het in 2015 begin skryf. Sy debuutroman, Klikbek, verskyn in 2019 by H&R en word vir die kykNET-Rapport-filmprys, die UJ-debuutprys en ‘n ATKV-Woordveertjie benoem. In 2020 verskyn die opvolg, Middernag, wat in 2021 met die kykNET-Rapport-filmprys bekroon word. In 2022 verskyn Vlam wat vir ‘n ATKV-Woordveertjie benoem word. In 2024 verskyn Bloedsomer. In Augustus vanjaar sal Roulette verskyn.
Sidney se skryfstyl en tematiek staan uit vir sy diepgaande verkenning van die menslike toestand en sy ondersoek na hedendaagse, relevante kwessies soos armoede, gesinsgeweld, toksiese manlikheid, familiegeheime en die individu se rol in die Suid-Afrikaanse samelewing. Hy vestig sy ryk gelaagde karakters en diep emosionele verhaalvertelling teen die agtergrond van die Vrystaat en die Suidkaap, wat sy lesers in 'n filmiese, herkenbare realiteit intrek.
"Die karakters in Gilroy se verhale, om Hennie Aucamp aan te haal, ruik na mens." - Francios Bekker oor Middernag in Beeld, Die Volksblad en Die Burger
Speursersant Sollie Mthembu is nie die mees bewese ondersoekbeampte nie. Wanneer hy na ‘n klein, Vrystaatse dorpie gestuur word om na die vermiste Tillman Wagenaar te gaan soek, is die dorpenaars nie juis behulpsaam nie.
‘n Aanval op die Wagenaars se plaas en die dood van Tillman se enigste erfgenaam noop Sollie om al sy speurvernuf in te span. Hy moet die Wagenaars en die dorp se geheime ontbloot voordat nog mense sterf.
Iemand is besig om die Vrystaat se kinders te vermoor. Wanneer ‘n verminkte liggaam in ‘n roomyskarretjie gevind word, word speursersant Sollie Mthembu na Harrismith gestuur om die skuldige vas te trek.
Terwyl kinders aanhou verdwyn, besef Sollie dat Die Slagter dalk teruggekeer het: ‘n Psigopaat waarmee hy as jong konstabel mee te doen gekry het. Dit word ‘n spel teen tyd om die donker onderwêreld van die Vrystaat se mantel weg te trek sodat hy die vermiste kinders kan red.
Die wêreldbekende kunstenaar, Aretha Hattingh, en haar hele oeuvre verkool in haar huis buite Parys in die Vrystaat.
Speursersant Sollie Mthembu ondersoek die vreemde omstandighede wat tot haar dood lei. Was dit selfmoord? Sit iemand agter Aretha se skielike afsterwe? Die inwoners van Parys het elkeen ‘n ander opinie oor die geheimsinnige kunstenaar. Hoe dieper Sollie in Aretha se verlede krap, hoe meer begin hy dink dat alles dalk nie is soos wat dit lyk nie.
Petunia Moraleng is haar rang kwyt. In Mooibaai probeer sy haar voete weer vind. Dan kom ‘n toeris op die verminkte liggaam van ‘n straatbewoner af. Dae later word nog ‘n slagoffer gevind.
Petunia en JP moet Mooibaai en die welaf Heemstra-familie se verstrengelde geheime ontrafel voordat ‘n misdaadsindikaat met internasionale bande hul gruwelike plan volstrek.
Waar kan ek van sy boeke kry?
Sidney se boeke is landwyd beskikbaar by kettingwinkels soos Exclusive Books & Bargain Books. Verskeie kleinhandelaars en onafhanklike boekwinkels bied sy boeke ook te koop aan en lewer ook tot by jou huis af. eBoeke van Sidney se boeke kan op Amazon, Takealot en Google gekoop word.
LAAT BOEKE BY MY AFLEWERVerskeie kleinhandelaars en onafhanklike boekwinkels bied van Sidney se boeke te koop aan en lewer ook tot by jou huis af. Kliek op die skakel om te bestel.
Sidney se boeke is landwyd beskikbaar by kettingwinkels soos Exclusive Books & Bargain Books.
eBoeke van Sidney se boeke kan op Amazon, Takealot en Google gekoop word.