FacebookBannerTop (1170 x 410 px) (2)
Die volgende boeke is by vooraanstaande boekwinkels en ook aanlyn beskikbaar.  
Vlam
Vlam

Speursersant Mthembu se huwelik lê aan skerwe. Nyandi het die kinders gevat en is sak en pak terug Lesotho toe. Terwyl Parkwegstasie se ace-speurder in 'n gastehuis in Bloemfontein wakker lê en tob oor sy aandeel, brand Xanadu-galery, tuiste van die wêreldberoemde SA kunstenaar Aretha Hattingh, tot op die grond af. Haar oeuvre 'n hoop as. En in die middel van die ruïne: die oorskot van 'n vrou, vermoedelik dié van Aretha. In Parys ontmoet Sollie 'n hand vol verdagtes: 'n kunsagent, 'n prokureur, 'n slagter, 'n bouer en 'n koerier. Voeg hierby 'n venynige aanneemkind, 'n jaloerse, skatryk eksman, die dorp se sprankelvrou én 'n stasiebevelvoerder wat die septer na haar eie reëls en tyd swaai, en jy het die wenresep vir 'n intrige gevul met hoogdrama. Is dit moord? Selfdood? Of bloot 'n fratsongeluk?

“'n Asemrowende ervaring.”
– Jonathan Amid, Netwerk24
Middernag

Die oorskot van 'n verminkte vierjarige word in die vroee oggendure in 'n Frutti Tutti-roomyskarretjie aan die voet van Platberg in Harrismith ontdek. Kaptein Brummels besluit oornag om Parkwegstasie se bulhond, Sollie Mtembu, saam te sleep om 'n oudkollega van hom met die ondersoek te help. Sollie lyk dalk na 'n onervare sersant wat dikwels oor sy eie woorde struikel, maar as hy iets beetkry, laat los hy nie. 


Sidney se debuutroman, Klikbek, is met groot lof deur resensente en krimi-lesers ontvang. Almal stem saam dat sowel skrywer as speurder 'n groot aanwins tot die Afrikaanse krimikorpus is.

“Ek beveel Middernag vir almal aan wat al gewens het vir ’n boek wat van die gewone resep afwyk. Ongeag die literêre bagasie wat elke leser het voordat die roman gelees word, besit die roman die vermoë om die leser in die middernagtelike ure steeds oor die raaisels te laat wakker lê.”
– Zelda Mans, LitNet
Middernag deur Sidney Gilroy
Klikbek deur Sidney Gilroy
Klikbek

Speurder Sollie Mthembu lê snags wakker oor of sy salaris ooit sy vrou se ambisies sal ewenaar. Maar in Oktober verdwyn 'n ou vriend van die polisiekommissaris en hy word opdrag gegee om dié “verdwyning” te ondersoek. Kort ná hy in Rhynveld arriveer verander die oënskynlike ontvoering in ’n moordsaak en Sollie moet sy vrese opsy skuif sodat sy speurvernuf kan seëvier. 

“Met sy getemperde register en woorde is Klikbek ’n teks wat sy leser van begin tot einde boei . . . Klikbek is ’n onthutsende debuut waarin die psigiese letsels van die karakters pynlik en genadeloos blootgelê word.”
– Francois Bekker, Netwerk24
Iemand wat verdrink en ander verhale met Sidney Gilroy
Iemand wat verdrink en ander verhale

Hierdie bundel is iets nuut en anders as vorige kortverhaalbundels, veral teenoor die bundels wat tradisioneel vir die skolemark saamgestel word. Viljoen het beslis ’n interessante kombinasie van kortverhale hier saamgevoeg. Dit is alles wat ’n mens nié verwag van ’n kortverhaalbundel nie. Die blink geel en rooi voorblad sê reeds vir die leser: daar skuil iets meer agter die titel.


Die Walkures deur Sidney Gilroy

Alhoewel hierdie verhaal nogal donker en teneerdrukkend kan wees, is daar baie diepte. Die sleutel tot hierdie verhaal is die verwysing in die titel: Die Walkures – in Engels die Valkyries. Dit is mitologiese vroulike figure uit die Noorse mitologie. Hierdie figure word meestal uitgebeeld as pragtige vroue op perde wat soms deur rawe vergesel word. Hulle word ook soms met valke vergelyk. Die Walkure besluit wie sal sterf tydens ’n oorlog en wie hulle na die hiernamaals sal neem as gevalle helde van die slagveld. Met hierdie metafoor in die agtergrond, ontvou die gebeure van ’n ongeluk. Die skrootwerf ondersoek ’n karwrak en die karakter van Adam vertel die leser van sy dag by die skool. Hy werk ook by dieselfde skrootwerf wat nou besig is om die wrak te weg te sleep. Die leser wonder die heeltyd wat die verteller met die toneel te maak het, totdat die metafoor voltooi word en die Walkures die karwrak wegsleep en besef wat werklik tydens die ongeluk gebeur het, insluitende met die verteller.   


Ingonyama en ander maats met Leeueharte

Skrywers aan die bundel neem temagewys nie net die drome, vrese, leefwêrelde en belangstellings van hierdie ouderdomsgroep in ag nie, maar ook die riglyne van die KABV-kurrikulum en die Departement van Basiese Onderwys se strewe om laerskoolonderwys by die “Vierde Industriële Rewolusie” te betrek. Daarbenewens bied die bundel ook ’n verhaal wat in Kaaps geskryf is om erkenning te gee aan meer as net die standaardweergawe van Afrikaans.

Die beeld van die jeug wat in hierdie bundel geskilder word, is dié van dapper, kreatiewe planmakers; kinders wat wyser en meer ruim van hart is as wat die samelewing dikwels wil toegee. Annelie Ferreira se verhaal “Ingonyama” verwoord hierdie beeld so sterk dat dit die logiese keuse vir gebruik in die titel van die bundel was. “Ingonyama”, wat “leeu” in isiXhosa en isiZulu beteken, sluit aan by “leeueharte” in die titel en sinspeel op die woord “leeuemoed”. Hierdie bundel verhale is dus vir alle leerders wie dapper lees in die EAT aanpak.

Ingonyama en ander maats met leeueharte met Sidney Gilroy
Wat die kritici kwytraak...
Solllie Mthembu en Maartin Brummels het die Vrystaat stewig hul kontrei gemaak.
- Fanie Olivier in Rapport
Alles in hierdie misdaadroman werk. Nie net die spanningslyn en die karakters nie, maar ook die perspektiefwisseling, die beskrywing van die milieu en die intrige. 


Gaan gryp die roman so gou moontlik van die rak af.

- Riette Rust op Litnet
Hierdie verhaal is groots, weids en luisterryk.
- Nico Schamrel na aanleiding van Sidney se kortverhaal, "Brak"
Die karakters in Gilroy se verhaal, om Hennie Aucamp aan te haal, ruik na mens.
- Francios Bekker oor Middernag in Beeld, Die Volksblad en Die Burger