Kleintjie Klaasens
Op hierdie plaas was sy, Arend en Beulah vir ’n leeftyd vasgevang. Nou krepeer hulle in die sinkhuis in Ottersgat. Haar man gaan by die dag agteruit. Vandat Beulah weg is, verlaat die lewe hom stukkie vir stukkie. Haar familie is aan flarde. Sy is desperaat. Gisteraand het sy besluit dat sy na Boetiger Heemstra se uitgestrekte grond sal terugsluip met dít wat van hulle oorgebly het.
“Ek moet myself weer bewys, Pa,” sê sy sag. “Van voor af. Toe daai regter daai dag sê, ja, sy was nalatig, was dit asof twintig jaar van my lewe voor my oë verdamp het. Ek het myself vir niks vir die polisie afgesloof, Pa.”
Heila Heemstra
Heila Heemstra kwyn onder die beddegoed in die hoofslaapkamer van die plaashuis op Moordenaarskuil. Haar lang grys hare hang yl langs haar slape. Met ingekolwe wange sink haar kop in die kussing weg. Sy is net vel en been, ’n skim van die vrou wat sy vroeër jare was. Met elke sonsondergang is sy nader aan haar einde. Sy besef dit.
Monja
Sy wil op hulle skree dat Dina die slagoffer is waarvan die koerante praat. Dat dit Dina is wat op die foto op Facebook agter die asblik lê. Nee! Hoekom sal iemand ’n foto daarvan plaas? Wat het met haar gebeur? Liewe, sagte Dina. Sy wil opbring toe sy die laaste keer onthou wat hulle bymekaar was. Sy het haar so verskree. Waarnatoe het dit Dina gedryf? Na wie toe het sy gevlug?
Hulle span die net wyer. Brasilië. Die Filippynse eilande. Suid-Afrika. Oliebondgenote. Duisende dollars verwissel van hande. Dosyne veraf lewens word gekaap.
Arno
Soms, wanneer hy met hulle klaarmaak, sal hy van buitekant af inkom en hom in die ou plaashuis se badkamer toesluit. Tussen die koelgrys mure skrop hy die reuk van sy daad van hom af. Die eerste keer was daar bloed aan sy privaat dele. Hy het gekyk, maar dit was nie hy wat gebloei het nie.
Albaster
Sy verlang na haar grot. Na die wye see vol alikreukels, mossels, seekatte en visse. Na haar geselsies met Sloet. En soms na die tweeslaapkamerhuisie op Moordenaarskuil, Ouma se vleisrak en die pot vol growwe pap in die vuurherd.